IFLA

As of 22 April 2009 this website is 'frozen' in time — see the current IFLA websites

This old website and all of its content will stay on as archive – http://archive.ifla.org

IFLANET home - International Federation of Library Associations and InstitutionsActivities and ServicesSearchContacts

School Libraries and Resource Centers Section

IFLA/UNESCO Skoolbiblioteekmanifes

Die Skoolbiblioteek in Onderrig en Leer vir Almal

Die skoolbiblioteek verskaf inligting en idees wat fundamenteel is vir die suksesvolle funksionering in die inligting- en kennisgebaseerde gemeenskap van vandag. Die skoolbiblioteek rus studente toe met lewenslange leervaardighede en ontwikkel die verbeelding. Sodoende word hulle toegerus om as verantwoordelike burgers te lewe.

Die missie van die skoolbiblioteek

Die skoolbiblioteek bied aan alle lede van die skoolgemeenskap leergeleenthede, boeke en bronne wat hulle in staat stel om kritiese denkers te word asook doeltreffende gebruikers van inligting in alle formate en media. Skoolbiblioteke skakel met die wyer biblioteek- en inligtingsnetwerk in ooreenkoms met die beginsels in die UNESCO Openbare Biblioteekmanifes.

Die biblioteekpersoneel ondersteun die gebruik van boeke en ander inligtingbronne wat wissel van die fiktiewe tot die dokumentêre, van gedrukte tot elektroniese formaat, sowel op die perseel as afgeleë. Die leesstof dien as aanvulling en verryking van handboeke, leermateriaal en metodieke.

Dit is bewys dat wanneer bibliotekarisse en onderwysers saamwerk, studente hoër vlakke van geletterdheids-, lees-, leer-, probleemoplossings- en kommunikasietegnologie-vaardighede bereik.

Skoolbiblioteekdienste moet in ‘n gelyke mate beskikbaar gestel word aan alle lede van die skoolgemeenskap, afgesien van ouderdom, ras, geslag, godsdiens, nasionaliteit, taal, professionele of sosiale status. Bepaalde dienste en materiaal moet verskaf word aan diegene wat nie in staat is om hoofstroombiblioteekdienste en -materiaal te gebruik nie.

Toegang tot dienste en versamelings behoort gebaseer te word op die Verenigde Nasies se universele deklarasie van menseregte en vryheid, en moet nie ondergeskik gestel word aan enige vorm van ideologiese, politieke of godsdienstige sensorskap of kommersiële druk nie.

Befondsing van wetgewing en netwerke

Die skoolbiblioteek is noodsaaklik vir elke langtermynstrategie vir geletterdheid, onderwys, die verskaffing van inligting en vir ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling. As die verantwoordelikheid van plaaslike, streeks- en nasionale gesag, moet dit deur spesifieke wetgewing en beleide ondersteun word. Skoolbiblioteke moet beskik oor voldoende en volgehoue befondsing vir opgeleide personeel, materiaal, tegnologieë en fasiliteite. Dienste moet gratis wees.

Die skoolbiblioteek is ‘n onmisbare vennoot in die plaaslike, streeks- en nasionale biblioteek en inligtingsnetwerk.

Waar die skoolbiblioteek fasiliteite en/of bronne deel met ‘n ander soort biblioteek, soos ‘n openbare biblioteek, moet die unieke doelwitte van die skoolbiblioteek erken en gehandhaaf word.

Doelwitte van die skoolbiblioteek

Die skoolbiblioteek is by die opvoedkundige proses geïntegreer.

Die volgende is noodsaaklik vir die ontwikkeling van geletterdheid, inligtingsgeletterdheid, onderwys, leer en kultuur en is kernbiblioteekdienste:

  • Die ondersteuning en bevordering van opvoedkundige doelwitte soos in die skool se missie en kurrikulum uiteengesit
  • Die ontwikkeling en bevestiging van die gewoonte en genot van lees en studeer by kinders, en van die gebruik van biblioteke hulle hele lewe lank
  • Die bied van geleenthede om ondervinding op te doen in die skep en gebruik van inligting vir kennis, begrip, verbeelding en genot
  • Die ondersteuning van alle studente in die aanleer en beoefening van vaardighede om te evalueer en inligting te benut afgesien van die vorm, formaat of medium, met inbegrip van sensitiwiteit vir die modusse van kommunikasie binne die gemeenskap
  • Die verlening van toegang tot plaaslike, streeks-, nasionale en globale bronne en geleenthede wat leerders blootstal aan uiteenlopende idees, ervarings en opinies
  • Die organiseer van aktiwiteite wat kulturele en sosiale bewustheid en sensitiwiteit aanmoedig
  • Samewerking met studente, onderwysers, administrateurs en ouers om die missie van die skool te verwesenlik
  • Die propagering van die begrip dat intellektuele vryheid en toegang tot inligting noodsaaklik is vir doeltreffend en verantwoordelike burgerskap en vir deelname in die demokrasie
  • Die bevordering van lees en die bronne en dienste van die skoolbiblioteek vir die hele skoolgemeenskap en verder

Die skoolbiblioteek vervul hierdie funksies deur beleide en dienste te ontwikkel, bronne te selekteer en te bekom, fisiese en intellektuele toegang te verskaf tot behoorlike bronne van inligting, onderrigfasiliteite te verskaf en opgeleide personeel in diens te neem.

Personeel

Die skoolbibliotekaris is die professioneel gekwalifiseerde personeellid wat verantwoordelik is vir die beplanning en bestuur van die skoolbiblioteek, ondersteun deur personeel wat so bevoeg as moontlik is, in samewerking met al die lede van die skoolgemeenskap, en is die persoon wat met die openbare biblioteek en ander biblioteke skakel.

Die rol van 'n skoolbibliotekaris sal wissel na gelang van die begroting, kurrikulum en onderrigmetodiek van die betrokke skool, binne die nasionale, wetlike en finansiële raamwerk. Binne spesifieke kontekste is daar algemene kennisgebiede wat lewensbelangrik is indien skoolbibliotekarisse doeltreffende biblioteekdienste wil ontwikkel en bedryf: bronne, 'n biblioteek, en inligtingsbestuur en –onderrig.

Dit is nodig dat bibliotekarisse, in ‘n omgewing waar mense al hoe meer onderling skakel en kommunikeer bevoeg moet wees in die beplanning van en onderrig van verskillende inligtinghanteringsvaardighede aan onderwysers sowel as studente. Om hierdie rede moet hulle voortgaan met hulle professionele opleiding en ontwikkeling.

Organisasie en bestuur

Om te verseker dat die bestuur effektief en verantwoordbaar is,

  • moet die beleid aangaande skoolbiblioteke sodanig geformuleer word dat dit doelwitte, prioriteite en dienste t.o.v. die skoolkurrikulum definieer.
  • moet die biblioteek georganiseer en bedryf word ooreenkomstig met professionele standaarde.
  • moet dienste toeganklik wees vir alle lede van die skoolgemeenskap en binne die konteks van die plaaslike gemeenskap opereer.
  • moet samewerking met onderwysers, senior skoolbestuur, administrateurs, ouers, ander bibliotekarisse en inligtingdeskundiges en groepe in die gemeenskap bevorder word.

Toepassing van die manifes

Daar word by regerings aangedring om, deur hulle onderwysministeries, strategieë, beleide en planne te ontwikkel wat die beginsels van hierdie manifes sal implementeer. Planne behoort in te sluit die verspreiding van die manifes sodat opleidingsprogramme vir bibliotekarisse en onderwysers aangevoor kan word en daarmee volgehou kan word.


Translated by:
Language Service
Western Cape Education Department
Western Cape Provincial Government
South Africa